CLANWILLIAM CEDERBERG KUNSTEFEES PROGRAM 2006

Buitefees van die Clanwilliam Cederberg Kunstefees
Saterdag 15 April 2006 by Bushman's Cave Bergteater

Kom geniet die Saterdagaand by die unieke en gewilde Bushman's Cave Bergteater in die geselskap van bobaasstorievertellers soos Arno van Zyl, Ollie Viljoen, Wicus van der Merwe, Alan Hughes en hul musikale vriende Danie Niehaus, Cheree en Gerrie Pretorius. Oornagfasiliteite en verskillende pakkette is beskikbaar.
Besprekings: Erik of Melinda de Milander (027) 482-2918
of edemilander@telkomsa.net
Meer inligting: www.bushmanscave.co.za

Cederberg Kunstefees 25 April tot 30 April 2006
Aktiwiteite gedurende die feesnaweek
Vrydag 28 en Saterdag 29 April 2006


Kunsuitstalling: Bekende en plaaslike kunstenaars se werke sorg vir 'n fees vir die sintuie. Kunshuis. Navrae: (027) 482-1940.
Ou Meul: Kunsuitstalling. Kosstalletjie en wyne te koop by ete. Kunstenaarsoptredes gedurende die aand. Navrae: (027) 482-2024 .
Skrywerspraatjies en voorlesings: Kunshuis.
Navrae: Stephnie Stone (027) 482-1940.
Boekuitstalling: Boeke van verskeie skrywers sal te koop wees. Blomkerk.
Navrae: Annette du Plessis (027) 482-2022 of cduples@mweb.co.za of 073 381 8430 tydens feesnaweek.
Begeleide toere: Word aangebied na die rotskunsterreine.
Navrae: (027) 482-1911.
Stalletjies: Heerlike kontreikos, 'n verskeidenheid plaaslike en tuisgemaakte produkte, asook arts and crafts. Kunswerke en handgemaakte artikels.
Navrae en besprekings: Sisteen Louw 083 230 5918.
Rooibos Teetuin: Oorkant die Strassberger's Hotel. Aangebied deur Augsburg Landbougimnasium.
Uitstallings: Aangebied in die Ou Tronk Museum. Besoek die Leipoldtkamer, Tolla se kamer en die Rooiboskamer.
Donkiekarritte: Geniet donkiekarritte en storievertellers Saterdag, 29 April 2006. Ritte in die dorp tydens die fees. Navrae: Clanwilliam Toerismeburo (027) 482-2024.
Elandsberg Eko-toerisme: Eko-toerisme uitstappie en rooibostee plaas.
Navrae en besprekings: (027) 482-2022.

Dinsdag, 25 April 2006


19:00 Opdragtoneelstuk: Die Rooibosriel. Gemeenskapsteater en storievertel-kultuur. Sien die jongmense met die oorfone in die ore is mos horende doof en siende blind, maar Ouma Makkie roep vir Pieternella Boom om die stories wat in die riel opgesluit is, oop te maak vir die jongklomp. Soos die resies tussen oom Smittie, sy foxterrier en die tier, of ken jy die een van oom Kateltjie wat so vreeslik geslaan is deur sy vrou, Antie Besempie? En wat is die weduwee antie Bester so danig met oom Kateltjie? En wat van Pagel se sirkus wat met die mankolieke tier en die siek leeu die hoogtepunt van die sosiale kalender is? En die egskeidings wat so by die dosyn in die polisiestasie gebeur, en wat van die spook wat so rondmiaau daar in die Engelse begraafplaas? En wat van oom Sternie wat so glad met die mond is? Die verstommende storieverteltegniek van Marion Holm en nege plaaslike akteurs bring die plaaslike vertellers se stories verhoog toe. Dié stories is in 'n teks vervat deur Hennie van Greunen (wat al stories soos K, Op die vrou af en Lyf Cederbergfees toe gebring het). Regie: Pedro Kruger - akteur (Blougat, Oorlog, Lyf en Op die vrou af) en Liriekeraai-spankaptein. Elke Clanwilliamer moet die rooibosriel saam met hierdie talentvolle groep kom dans!
Clanwilliam Gemeenskapsaal.
60 minute. R40 per volwassene en R20 per skoolgaande kind.
Geborg deur die Lotto en Distell.

Woensdag, 26 April 2006


09:00 Aswoestertjie - 'n Pantomini. Gaerin Hauptfleisch is verantwoordelik vir die teks en regie. Die bekende sprokie van Aspoestertjie is verwerk tot 'n pantomime wat perfek werk vir laerskoolleerders. Daar word nie net gek geskeer met die oorspronklike sprokie nie, maar visuele grappe en die akteurs se geswoeg om voor te bly met spesiale effekte sal die gehoor laat skaterlag. In die rolverdeling is die bekende komediant Leon Kruger van Skeitbang en Suurgat faam, asook Floyed de Vaal, Frieda van den Heever en Stephanie Hough.
NG Kerksaal. 70 minute. R10 per kind. Geen stoele word verskaf nie.
Navrae: Suria Basson (027) 482-2517/9.

10:00 Opdragtoneelstuk: Die Rooibosriel. Gemeenskapsteater en storievertel-kultuur. Geskryf deur Hennie van Greunen, gebasseer op karakters en stories soos oorvertel deur Pieter Hanekom, Ernst Smit, Olive Nieuwoudt, Freek Scheepers, Johannes Moses, Andries Hendriks en Pietjie Slabber. Die rolverdeling bestaan uit Pedro Kruger, Marion Holm en verskeie plaaslike storievertellers, akteurs, dansers en rieldansers. Regie: Pedro Kruger.
Clanwilliam Gemeenskapsaal. 60 minute. R10 per kind.
Geen stoele word verskaf nie.
Geborg deur die Lotto en Distell.

11:00 Rooi Kêpsie en die Wolmasjien. Souttert Produksies stel 'n nuwe toneelstuk vir kinders bekend. Ná die sukses van Jakkie en die Boontjierank is hulle terug met 'n nuwe musikale juweel, Rooi Kêpsie en die Wolmasjien. Die storie van Rooikappie kry in hierdie pantomime 'n eg Suid- Afrikaanse geur. Die heldin, Kêpsie, is 'n tawwe koekie met straatwysheid wat handig te pas kom soos sy deur die stedelike oerwoud na Ouma se huis toe moet voetslaan. Sy word deur Ma aangesê om Ouma se medikasie weekliks vir haar te neem, maar kom selde daarby uit weens haar deeltydse werk as Kwaito-instruktrise. Sy is dus verbaas oor die stand van sake wanneer sy wel by Ouma uitkom en besef dat dinge nie meer so rooskleurig is soos wat sy onthou nie. Die mense wat sy op pad ontmoet, kwel haar net so – die houtkapper, die vreemde singende tweeling wat geld insamel vir die natuurraad (Die Coleskie Broers), 'n bende vroue wat glo in die voller figuur (die Casatta Freedom Fighters), en dan ook die wolf – Wolfgang, of Wollie vir sy maters. Rooi Kêpsie se paaie kruis verskeie kere met Wolfgang. Hy is kwaad en grusaam, en het besluit om sy ligaamshare vir eens en altyd te laat groei in protes teen die 'metrosexual man' wat sy lewe so versuur. Hy voel die Suid-Afrikaanse man word verkeerdelik veroordeel. Hy voel dit sy plig om op te staan vir die hardebaard-boereseuns wie se kultuur so onderdruk word. Maar wolf het geleer, wanneer al die vrae oor die vreeslike hare te veel word, gebruik hy so elke nou en dan die "wolmasjien" verskoning. Die akteurs in is Martelize Kolver (Francois Toerien Show en Ysterasters), Stephanie Hough (Jakkie en die Boontjierank), Quentin Krog en die heldin agter die klawers, Frieda van den Heever, wat ook verskeie rolle speel. Die regie word deur Gaerin Hauptfleisch, 'n bekroonde talent in jeugteaterkringe, behartig. Daar word nie net gesit in hierdie produksie nie, ook nie net gekyk nie … die gehoor word op elke moontlike wyse betrek. Met spel, dans en sang word hulle vergesel op al die avonture van Kêpsie. Die jongspan sal gretig saamsing.
Augsburg Landbousaal buite die dorp. 70 minute.
R10 per kind. Bring sakgeld vir speletjies en stalletjies.
Geen stoele word verskaf nie. Navrae: Suria Basson (027) 482-2517/9.

11:30 "Cederberg goes Pops". Musikale opdragstuk vir die Cederbergfees. Diso Plaatjies en sy band, Jak de Priester en Natalia da Rocha saam met plaaslike talent. 'n Unieke produksie met musiek en dans spesiaal saamgestel vir die Cederbergfees.
Senior Sekondêre Skoolsaal. 60 minute. R10 per volwassene en R5 per kind.
Geen stoele word verskaf nie.
Geborg deur Absa.

20:00 Jak de Priester. Kom geniet 'n vertoning saam met 'n baie gewilde sanger en liedjieskrywer. 
Reinholds Restaurant. R40 per persoon vir die vertoning.
'n A la carte spyskaart is beskikbaar na die vertoning.
Besprekings: Surette Claassens (027) 482-1101.

Donderdag, 27 April 2006


09:00 Lééf - met hart & siel en Freshpak Rooibos Lesersoggend.
Este Geldenhuys, bekende radiopersoonlikheid en spreker, sal 'n inspirerende praatjie lewer en Elize Parker, Lééf se bekroonde joernalis, sal tong-in-die-kies gesels oor die vreugde van die liefde. Daarna is dit lekkerluistertyd wanneer Zamar, die energieke vyftal van Stellenbosch, optree. Hul musiek bestaan uit eiesoortige verwerkings van die Suid-Amerikaanse tango, Ierse volksmusiek en tradisionele Afrika-musiek. Christine Ferreira, mederedakteur van Lééf - met hart & siel, sal as seremoniemeester optree. Freshpak Rooibos sal gaste verkwik met 'n heerlike koppie tee. Freshpak Rooibos ice tea, 'n nuwe verfrissende Rooibos-ystee, sal bykomende lafenis bied. Die oggend word afgesluit met 'n ligte middagete, aangebied deur Jaco Slabber van die Olifantshuis Restaurant op Clanwilliam, en voorgesit met Cederberg-wyne. Daar is verskeie
gelukstrekkings en Environ het 'n geskenkpakkie vir elke gas. Spesiale stalletjies sal ook interessanthede verkoop. Die stalletjies maak om 09:00 oop en die program begin om 09:30. Augsburg Landbougimnasium. R130 per persoon.
Besprekings voor 13 April by Sarie Walters, Rooibos Bpk. (027) 482-2155.
Geborg deur Lééf - met hart & siel, Freshpak Rooibos, Freshpak Rooibos ice tea en Cederberg Wynkelder.

09:00 Aswoestertjie - 'n Pantomini. Gaerin Hauptfleisch is verantwoordelik vir die teks en regie. Die bekende sprokie van Aspoestertjie is verwerk tot 'n pantomime wat perfek vir laerskoolleerders werk. Daar word nie net gek geskeer met die oorspronklike sprokie nie, maar visuele grappe en die akteurs se geswoeg om voor te bly met spesiale effekte sal die gehoor laat skaterlag. In die rolverdeling is bekende komediant Leon Kruger van Skeitbang en Suurgat faam, asook Floyed de Vaal, Frieda van den Heever en Stephanie Hough.
NG Kerksaal. 70 minute. R10 per kind. Geen stoele word verskaf nie.
Navrae: Suria Basson (027) 482-2517/9

11:00 Rooi Kêpsie en die Wolmasjien. Souttert Produksies stel 'n nuwe toneelstuk vir kinders bekend. Met spel, dans en sang word hulle vergesel op al die avonture van Kêpsie. Die jongspan sal gretig saamsing. Stephanie Hough, Quentin Krogg, Martelize Kolver en Frieda van den Heever.
Augsburg Landbousaal buite die dorp. 70 minute. R10 per kind.
Bring sakgeld vir speletjies en stalletjies.
Geen stoele word verskaf nie. Navrae: Suria Basson (027) 482-2517/9.

14:00 Opdragtoneelstuk: Die Rooibosriel. Gemeenskapsteater en storievertel-kultuur. Geskryf deur Hennie van Greunen, gebasseer op karakters en stories soos oorvertel deur Pieter Hanekom, Ernst Smit, Olive Nieuwoudt, Freek Scheepers, Johannes Moses, Andries Hendriks en Pietjie Slabber. Die rolverdeling bestaan uit Pedro Kruger, Marion Holm en verskeie plaaslike storievertellers, akteurs, dansers en rieldansers. Regie: Pedro Kruger.
Clanwilliam Gemeenskapsaal. 60 minute.
R40 per volwassene en R20 per skoolgaande kind.
Geborg deur die Lotto en Distell.

15:30 Harmse. Satiriese komedie vir ouer kinders en volwassenes. Dis die verhaal van 'n privaatspeurder, gespeel deur Neels van Jaarsveld ("Met eish" - Klipdrift advertensie en Known Gods) wat die pad byster raak wanneer 'n verleidelike blondine, Lorelei (Erica Wessels - binnekort in Orion, 'n nuwe TV-drama te sien) sy kantoor binnestap. Sy eks, Ursula (Anneke Senekal - Skroothonde en Terre'Blanche), sterf wanneer sy vergiftigde sjokolade eet wat vir hom bedoel was. Harmse besef dat alles nie pluis is met Lorelei se ontvoeringssaak nie. Bettie word vertolk deur Hanna Grobler (Hoender en 7de Laan) en Mynhard en Richard Samson word vertolk deur Stian Bam (Romeo en Julia en Maria de Buenos Aires). Die stuk wend deurentyd die oorbekende clichés van die speurverhaal- en film noir-genres aan om 'n stylvolle, pittige, en skreeusnaakse komedie te word. Daar is al van film noir gesê dat dit 'n uitstekende genre vir jong kunstenaars is, omdat dit 'n breë mark kan vermaak, maar nie die gifangel van die kritici sal kry nie. Dit is ook die filosofie wat met Harmse gevolg is: 'n stuk wat vir 'n breë gehoor vermaaklik is, en vir die meer ervare en betrokke teaterganger steeds slim verwysings bied en die medium op oorspronklike wyse aanwend. Die hele teaterstuk speel in wit en swart af. Van die stel, kostuums, beligting tot grimering en hare word wit, swart en grys gemaak. Uiteindelik word Harmse meer as net 'n komedie – dit word 'n slim bymekaargevlegde reeks tonele wat raam vir raam ewenwel 'n kunsuitstalling sou kon wees. Waar die plot en dialoog vir komiese vermaak sorg, bly die visuele aspek van die stuk sterk esteties en stylvol. Harmse sal vanjaar by die KKNK premiére. Dit het egter reeds die tweede prys gewen in die Nagtegaal-tekskompetisie, en alle aanduidings is dat dit 'n uiters suksesvolle produksie gaan wees. Teksskrywer en regisseur Tertius Kapp is veral bekend as die regisseur van die bekroonde Skroothonde (Aardklop 2004). 'n Tart 'n Koggel-produksie.
NG Kerksaal. 70 minute. R50 per volwassene en R25 per skoolgaande kind/student.

16:00 Begeleide rotskuns uitstappie met Prof. John Parkington na die rotskunsgrot op Bokwater. 'n Maklike stappie na Bokwater se rotstekeninge. Die stap duur een-en-'n-half tot twee uur. Ontmoet by die Cedar Inn op die N7 (7 km vanaf Clanwilliam).
Geniet daarna 'n à la carte ete.
Cedar Inn. R25 per persoon. Navrae: (027) 482-1940.

17:30 Harmse. Satiriese komedie vir ouer kinders en volwassenes. Dié skreeusnaakse stylkomedie draf suutjies tussen film noir-verwysings, kettingsae, Bovril en gevaarlike blondines deur. Waarom dra privaatspeurders sonbrille? Waarom ís geld alles? Vind die antwoord op hierdie en ander vrae in jou eerste teaterervaring wat geheel en al in wit en swart afspeel. Met Neels van Jaarsveld, Erica Wessels, Anneke Senekal, Stian Bam en Hanna Grobler. Grimering: Petrus du Preez. Ontwerp: Lize Poultney en Tertius Kapp. Assistent-regisseur: Suzaan Keyter. Teks en regie: Tertius Kapp. Naaswenner van die Nagtegaal-tekskompetisie. 'n Tart 'n Koggel-produksie.
NG Kerksaal. 70 minute. R50 per volwassene en R25 per skoolgaande kind/student.

18:00 Opening van die Kunsuitstalling. Verskeie bekende kunstenaars, sowel as plaaslike kunstenaars se werke word uitgestal. 'n Werkswinkel word vooraf aangebied. Ramon Alexander (klavier) en Lou-Ann Stone (saksofoon) sorg vir musiek by die geleentheid.
Ou Meul. R30 per persoon (kaas en wyn ingesluit).
Navrae: Lindie Melle (027) 482-2509.
Geborg deur Bilton  Wyne.

19:00 "Cederberg goes Pops". Amptelike opening van die Cederbergfees. Musikale opdragstuk vir die Cederbergfees. Diso Plaatjies, Jak de Priester en Natalia da Rocha tree op saam met plaaslike talent. 'n Unieke produksie met musiek en dans spesiaal saamgestel vir die Cederbergfees.
Clanwilliam Senior Sekondêre Skoolsaal. 90 minute.
R60 per persoon (ligte vingerete ingesluit).
Geborg deur Absa.

21:00 Sarah Theron en Onkruid. Sarah is baie gewild by die Cederbergfees en sy en haar band Onkruid kook in hierdie vertoning. Sarah het 'n stem en persoonlikheid waarby min in Suid-Afrika kan kers vashou. Sarah en haar talentvolle band gaan feesgangers verstom met 'n vertoning van blues en rock-musiek soos Clanwilliam haar nog nooit tevore gesien het nie.
Reinholds Restaurant. R100 per persoon (ete ingesluit).
Besprekings: Surette Claassens (027) 482-1101.
Geborg deur Citrusdal Cellars.

Vrydag, 28 April 2006


08:00 Ontbyt met Die Burger. Strassberger's Hotel. R45 per persoon.
Besprekings: Surette Claassens (027) 482-1101.

09:00 Die Burger Gholftoernooi by Clanwilliam Gholfklub. R130 per persoon. Vir inskrywings en meer besonderhede kontak Albertus Erasmus (027) 482-2051.
Geborg deur Die Burger.

09:00 "Ken en verstaan jou emosies". Lesing oor kunspsigoterapie: 'n Ontdekking deur Anneke Stone.
Kunshuis. R50 per persoon. Navrae: (027) 482-1940.

10:00 Monaloog deur Helena Conradie. Woordkuns en storievertel-kultuur. Hierdie is 'n heerlike eenvrouvertoning met staaltjies oor Helena se vriendin en huishulp van 20 jaar, Mona de Bruin. Mona is reeds oorlede, maar deur die stuk leef sy en al haar komiese vertellinge en staaltjies voort. Oorspronklike musiek van Valiant Swart word gebruik. Regie: Marius du Plooy
St Johns Anglikaanse Kerk. 60 minute. R30 per persoon.

10:00 Media 24 Toneelkompetisie. Toneelstukke opgevoer deur skole.
Die beoordelaars is Gerrit Snyman, Lida Botha en Willem Fransman Junior.
Clanwilliam Senior Sekondêre Skoolsaal.
R5 per volwassene en R2 per skoolgaande kind.
Geborg deur Media 24.

11:30 Kontreistories. Hierdie baie spesiale program word saamgestel uit stories en musiek. Bekende skrywers soos Elias Nel en Dirk van Schalkwyk vertel stories uit ons kontrei. Musiek deur Pieter van der Westhuizen. Ná die ete volg die tweede helfte van die program. Niël Rademan tree saam met Lou-Ann Stone (saksofoon) op. Niël het Afrikaanse juwele soos Sawends, Net 'n stille uurtjie en Boereseun van vergetelheid gered. Hy gaan wonderlike herinneringe oproep met musiek en vertellinge.
Reinholds Restaurant. 120 minute. R80 per persoon (ligte tradisionele middagete ingesluit). Besprekings: Surette Claassens (027) 482-1101.
Geborg deur die ATKV.

14:00 Amanda Botha doen 'n aanbieding oor Dalene Matthee. Skrywerspraatjie. Die aanbieding fokus op Dalene Matthee en haar wêreld - die terrein van haar boeke met spesiale verwysings na die bosboeke en Die Uitgespoeldes. Hierdie aanbieding sal vir die eerste keer op Clanwilliam aangebied word en beloof om 'n baie spesiale blik op Dalene Matthee te bied. Daar word van o.a. 'n Power Point-aanbieding gebruik gemaak. Tee en verversings is ná afloop van die aanbieding in die sysaal te koop.
NG Kerksaal. 60 - 90 minute. R20 per persoon.

16:00 Susters van Eva. Woordkuns gemik op 'n volwasse gehoor. Alexa Strachen kan gesien word in hierdie puik eenvrouvertoning gegrond op die boek deur Dalene Matthee. Die storie speel in hierdie kontrei af.
Regie: Sandra Prinsloo.
NG Kerksaal. 60 minute. R50 per persoon. Geborg deur die Hiemstra Trust.

17:30 Koos Kombuis en Zamar. Koos Kombuis het geen bekendstelling nodig nie en is een van die Cederbergfees se gewildste kunstenaars. Vanjaar tree hy saam met Zamar op. Veronica Bell (viool), Anjulie de Vos (kontrabas), Hilandi du Toit (sang en kitaar), Luyda Rukavitsyna (sang en trekklavier) en Doné McLukie (djembe en perkussie) maak musiek wat jou voete laat jeuk. Die Griekse woord "zamar" beteken"om fees te vier met die pluk van snare". Hul musiek sluit Amerikaanse tango, Ierse volksmusiek en tradisionele Afrika-musiek in.
Reinholds Restaurant. 90 minute. R80 per persoon (kaas en wyn ingesluit).
Besprekings: Surette Claassens (027) 482-1101.

17:30 Amptelike opening van die Cederbergfees Kunsuitstalling.
Die fokus val vanjaar op Ingrid Jonker. Daar is oudio-visuele materiaal en 'n kunsuitstalling deur Maro "Ingrid op Doek" Die uitstalling word geopen deur Dr. A.J. (Koos) Jonker. Alta Joubert en Luna sing elk 'n gedig van Ingrid Jonker wat deur hulself getoonset is. 'n Wynproe word deur Citrusdal Cellars aangebied.
Kunshuis. 90 minute. R20 per persoon. Navrae: (027) 482-1940.

18:30 Braaivleis, rugby, sunny skies en... SUSSIE! 'n Splinternuwe stuk oor Sussie met Marion Holm. 'n Lekker-lag komedie vir die hele gesin. Verlede jaar het Sussie vol sale by die Cederbergfees getrek. Na die ongelooflike sukses van Sussie is nou suur en Sussie rafel nou uit is sy terug met 'n nuwe vertoning. "Meneer, meneer my naam is Sandy!" - as jy die laaste woorde van 2005 se wegholtreffer Sussie rafel nou uit onthou, dan onthou jy die nimlike Sandy, wat met Marion se ongelooflike talent diep in die harte van feesgangers gekruip het. Met hierdie splinternuwe show vir 2006, stel sy ons bekend aan 'n handvol karakters wat in die kontoere van Marion se gesig, in die taal van haar lyf, en in die kamers van haar hart 'n tuiste vind. Hierdie karakters is gevul met patos, is skreeusnaaks en is bowenal so herkenbaar soos net Sussie hulle kan maak, want hulle is net so Afrikaans soos braaivleis, rugby, sunny skies en... Sussie! Teks: Hennie van Greunen en Marion Holm.
Regie: Hennie van Greunen
NG Kerksaal. 70 minute. R50 per persoon. Geborg deur Vrouekeur.

19:30 "Cederberg goes Pops". Musikale opdragstuk vir die Cederbergfees. Diso Plaatjies en sy band, Jak de Priester en Natalia da Rocha saam met plaaslike talent. 'n Unieke produksie met musiek en dans spesiaal saamgestel vir die Cederbergfees.
Senior Sekondêre Skoolsaal. 60 minute.
R10 per volwassene en R5 per kind. Geen stoele word verskaf nie.
Geborg deur Absa.

Ou Meul program


Hierdie ervaring is spesiaal vir feesgangers wat lus is vir 'n rustige aand met pragtige, besielende musiek in die ongelooflike atmosfeer van die Ou Meul. Ligte etes en wyn word buite verkoop.
20:00 Besing die liefde - Petronel Baard en Niël Rademan. Kom geniet 'n splinternuwe program van hierdie twee briljante musikante. Hierdie program is spesiaal saamgestel vir die Woordfees vanjaar. Dit bestaan uit die mooiste liefdesliedere in Afrikaans en Engels. Kom sit terug vir 'n sielsverrykende vertoning.
20:30 Luna is 'n ou bekende by die Cederbergfees. Sy het verlede jaar na Pretoria verhuis. Na die vrystelling van haar jongste CD is sy besig om landwyd bekend te raak. Sy tree nie meer so baie in die Wes-Kaap op nie en haar fans moet beslis nie hierdie geleentheid misloop nie.
22:00 Jak de Priester. Kom geniet 'n rustige akoestiese vertoning saam met een van ons gewildste sangers en liedjieskrywers. Dit beloof om 'n baie spesiale vertoning te wees met songs van sy nuwe CD – Brooklyn poet.
23:00 Abel Kraamsaal. Abel is een van ons nuwe, vars stemme in Afrikaans. Kom geniet 'n vertoning van mooi musiek en lirieke.
Ou Meul. Toegang: R50 per persoon.
Geborg deur Bryde Wyne en Hoopenburg Wyne.

JIP Rockfees in die vermaaklikheidstent


Gian Groen tree op as aanbieder.
R60 per volwassene en R30 per skoolgaande kind/student.
12:00 Jip Battle of the bands. Jong bands kry die geleentheid om mee te ding in die kategorie vir skoolbands – Rockspaaider of die kategorie vir na-skoolse bands en pryse te wen. Die beoordelaars is Gian Groen, Valiant Swart, Alta Joubert en 'n verteenwoordiger van Jip.
17:00 Battle of the bands wenners. Hulle wys waartoe hulle in staat is en hoekom hulle die wenners is.
17:30 Bokkom. Hierdie bekende en gewilde groep van Saldanha open vanjaar se Rockfees.
18:00 Konsentrasiekamp. Hierdie baie opwindende jong Afrikaanse band van Bloemfontein het al by verskeie feeste opgetree. Hulle wys dat Afrikaanse rockmusiek bo-baas is.
19:00 Rooibaardt. Hierdie groep het die Suid-Afrikaanse musiektoneel soos 'n storm getref en is seker een van die bands wat die vinnigste opgang gemaak het. Hulle speel 'n baie groot verskeidenheid instrumente en het 'n unieke klank. Hierdie band van Betlehem in die Vrystaat gaan jou beslis verras met oorspronklike Afrikaanse musiek. Die hele gesin sal dit geniet.
20:00 Valiant Swart en sy band. Hulle is só gewild dat hulle vanjaar terug is by die Cederbergfees op versoek van feesgangers en hulle is reg om oud en jonk te laat rock.
21:00 Dozi en sy band. Hierdie baie gewide kunstenaar tree vanjaar vir die eerste keer by die Cederbergfees op. Dozi het baie moeite gedoen om die Cederbergfees in sy besige skedule in te pas. Clanwilliam is bevoorreg om hom vanjaar by die Rockfees saam met 'n volle band te verwelkom.
22:30 Gian Groen en sy band. Hy is terug met al sy ou treffers en ook 'n klomp nuwe songs van sy nuwe CD om Cederbergfeesgangers op hul voete te hou.
23:30 Southern Gypsey Queen. Hulle is tans een van die warmste bands op die Suid-Afrikaanse musiektoneel. Dit is die ideale geleentheid om hierdie talentvolle groep te sien optree. Hulle is van Molteno in die Oos-Kaap en maak uitstekende rock-musiek
00:30 Jesse Jordan Band. Die groep is so gewild by Cederbergfeesgangers dat hulle op spesiale versoek terug is. Hierdie talentvolle groep het uitstekende stemme en skryf hul eie musiek, maar speel by feeste ook covers wat aan almal bekend is.

Saterdag, 29 April 2006


08:00 Rooibos Pretdraf. Pretdraf of pretstap oor 4 km of 8 km gereël deur die Rooibos Atletiekklub. Jy mag kruip, op jou hande loop, kruiwa stoot of sprint – moet dit net nie misloop nie.
Beginpunt by Spammer-Erasmus (langs Spar).
R10 per volwassene en R5 per skoolgaande kind.
Navrae: Yola Bergh (027) 482-2062.

08:30 Straatoptog. Trompoppies van Vredendal-Noord Skool begin in Ou Kaapseweg (regoor Rooibos Bpk).

09:00 Skrywers van die Afrikaanse Skrywersvereniging gesels oor hul boeke. Kom luister na onder andere Elias Nel, Willem Fransman Junior en Florence Filton.
Kunshuis. 120 minute. R20 per persoon. Navrae: (027) 482-1940.

09:30 Opdragtoneelstuk: Die Rooibosriel. Gemeenskapsteater en storievertel-kultuur. Geskryf deur Hennie van Greunen, gebasseer op karakters en stories soos oorvertel deur Pieter Hanekom, Ernst Smit, Olive Nieuwoudt, Freek Scheepers, Johannes Moses, Andries Hendriks en Pietjie Slabber. Die rolverdeling bestaan uit Pedro Kruger, Marion Holm en verskeie plaaslike storievertellers, akteurs, dansers en rieldansers. Regie: Pedro Kruger.
Clanwilliam Gemeenskapsaal. 60 minute.
R40 per volwassene en R20 per skoolgaande kind.
Geborg deur die Lotto en Distell.

Gratis straatvermaak op die grasperk oorkant die Museum


09:30 Diso Plaatjies en sy band maak musiek vir die hele gesin en beloof om almal in 'n feesstemming te kry.
10:15 Pieter van der Westhuizen is baie gewild by Cederbergfeesgangers. Vanjaar is hy terug om feesgangers met sy unieke styl en liedjies te vermaak soos nét hy kan.
11:00 Bella het geen bekendstelling nodig nie. Sy het baie aanhangers in Clanwilliam wat nie kan wag om haar hier in aksie te sien nie. Moet dit nie misloop nie!
12:30 Die Kaapse Klopse sorg vir vermaak en 'n feestelike atmosfeer oorkant die Museum en in die Hoofstraat.
13:00 Plaaslike talent kry die geleentheid om feesgangers te vermaak.
Beoordeling van potjiekoskompetisie. Inskrywings: Kelvin Beukes: (027) 482-1683.

09:30 Ysterasters. Toneel vir die hele gesin. Elsabé Daneel (bekende TV-aanbieder), Hilda van Lill, Christine Wessels, Martelize Kolver (nuwe gesig in die "Met eish"- Klipdrift advertensie), Ilsé Schmidt (Skooldae faam) en Petro van den Heever bring die verhaal van Steel Magnolias na Philippolis in die Vrystaat.
Die ses vroue kom gereeld in 'n skoonheidsalon bymekaar en die alledaagse lewe van die klomp word met humor bekyk. Tussen die geselsery, geskinder en raadgee deur sien ons ook vriendinne wat deur dik en dun saamstaan. 'n Ma-en-dogter-verhouding word ook onder die vergrootglas geplaas. Regie: Juanita Swanepoel. Vertaling en verwerking: Martelize Kolver en Petro van den Heever.
Gedurende pouse word tee en verversings in die sysaal verkoop.
NG Kerksaal. 120 minute. R55 per persoon.

10:00 Alta Joubert. Alta maak unieke Afrikaanse folk-rock musiek. Sy tree op saam met 'n volle orkes: Heinè Jack (baskitaar), Ramon Alexander (klavier), Neville Arnolds (dromme) en Lou-Ann Stone (vervaardiger, musikale regie en saksofoon).
Sy sal bekende treffers en splinternuwe liedjies sing.
Reinholds Restaurant. 100 minute. R100 per persoon (ligte ontbyt ingesluit).
Besprekings: Surette Claassens (027) 482-1101. Geborg deur Sarie.

10:30 Skeitbang. Komedie – volwasse gehoor. Komediant en skrywer Leon Kruger is 'n 31-jarige bachelor wat skeitbang is vir trou … hoekom? Volgens hom het hy nog nie die vrou ontmoet wat hom verdien nie – tot hy haar ontmoet … Ná drie koffies en 'n belustige aandete vra hy haar om by hom in te trek, want saambly is 'n gerieflike agterdeur as jy voel sy het klaar die voordeur gesluit – daar's nog kans om weg te kom. Hy misgis hom, want selfs die dikvelligste, domste man kom op 'n punt in sy lewe waar hy besef hierdie is dalk nie die langste one night stand in die geskiedenis nie. Dit is nie normaal vir 'n player van sy formaat om vir haar te kyk terwyl sy slaap nie en die girl maak 'n damn beter aartappelslaai as sy ma! Ons ontmoet die verloofde wat haar troue met militêre presisie beplan. 'n Ma wat weier om van haar oudste seuntjie te skei en vele ander karakters. Hierdie stuk was een van die suksesvolste komedies in 2005 en het vol sale by Aardklop en die KKNK getrek. By die Rittelfees 2005 se komediefees het Leon die prys vir spel asook gewildste produksie gewen.
Stadsaal. 70 minute. R50 per persoon. Geborg deur Nedbank.

11:00 Twee baie bekende musikante en skrywers, Koos Kombuis en Jak de Priester, gesels oor hulle boeke. Koos Kombuis het al 'n hele klomp boeke op sy kerfstok en fokus veral op sy nuutste boek, "Raka die Roman". Jak de Priester stel vanjaar by die KKNK sy eerste digbundel, "Heuning in die Mond", bekend.
Hulle tree as volg op:
11:00 Jak de Priester gesels met Koos Kombuis oor sy nuutste boek "Raka die Roman".
12:00 Jak de Priester lees voor uit sy digbundel, "Heuning in die Mond", en sing 'n paar liedjies wat by die tema pas.
Kunshuis. R20 per persoon. Navrae: (027) 482-1940.

12:00 Haar Hare. Musiekkomedie - ouerbegeleiding. Lulu die hairdresser het ge-upgrade na Pretoria-Oos. Haar nuwe salon maak netnou oop, en die kliënte is op pad. Daar is 'n blond wat haarself sommer in die lewe van sofistikasie, glamour en glitz ingetrou het, daar is 'n bitchy rooikop, en 'n misterieuse donkerkop. Net jammer Lulu het die Cold Duck vir Koelkopkapsels se groot opening vergeet - en die droërs blaas een na die ander 'n fuse. Kort voor lank gaan 'n paar ander fuses blaas, want die rooikop gaan teef oor haar roots wat uitgroei, Mandy se common roots gaan wys, en die donkerkop weet heeltemal te veel van almal af.
Heerlike vermaak vir elke vrou wat al ooit effens unhappy uit 'n haarsalon gestap het, en ook vir elke man wat dan in daai vrou moes vaskyk. Skreeusnaakse komedie en intrige, met viby musiek in 'n stuk wat die draak steek met vroulike stereotipes, en die wêreld van ewige ydelheid. Met Lindie Stander (aanbieder van Kwêla) as die haarkapster, Bertha le Roux (Emma van 7de Laan), Alexa Strachen (Susters van Eva), Karen Wessels (van Cutt Glass en Casper Rasper-faam) en Nico Dreyer as die kliënte. Geskryf deur Alexa Strachen en Lindie Stander.
Regie: Sandra Prinsloo.
Clanwilliam Senior Sekondêre Skoolsaal. 80 minute. R55 per persoon.
Geborg deur Standard Bank.

13:00 Paljas van Dirk Ligter. Woordkunsprogram. In hierdie opdragstuk vir die Cederbergfees, geskryf deur Willem Fransman Junior, word die lewe van die legendariese figuur van die Tankwa-Karoo uitgebeeld.
Die Wupperthalse Rieldansers wys hul passies en Willem Fransman Junior (as Dirk Ambraal) en Zavey Goliath (as Koos Bol) neem teatergangers saam op die vele omswerwinge van Dirk Ligter. Ligter word as mens sowel as paljasmaker voorgehou. Sy manewales met die vroue en sy liefde vir 'n vet skaapribbetjie word ook nie weggelaat nie! 'n Kreakon Toneelgeselskap-produksie.
Gemeenskapsaal. 60 minute. R10 per volwassene en R5 per kind. Geborg deur Son.

14:00 Petronel Baard, Luna en Alta Joubert. Verlede jaar het hierdie talentvolle musikante feesgangers verras met hul vertoning Miss-Meraais. Vanjaar is hulle terug met van die hoogtepunte uit Miss-Meraais, asook nuwe verwerkings. Hierdie program spesiaal saamgestel vir die Cederbergfees, met 'n verskeidenheid musiekstyle (rock, folk en blues) wat op 'n uitsonderlike manier gekombineer word. Hierdie uiters talentvolle dames tree op saam met 'n volle orkes: Heinè Jack (baskitaar), Ramon Alexander (klavier), Neville Arnolds (dromme) en Lou-Ann Stone (vervaardiger, musikale regie en saksofoon).
Reinholds Restaurant. 80 minute. R80 per persoon (kaas en wyn ingesluit). Besprekings: Surette Claassens (027) 482-1101.

14:00 Die Tafel. Realiteitskomedie veral gemik op 'n volwasse gehoor. Pedro Kruger en Marion Holm is man en vrou. Gelukkig getroud, maar net soms. Ons volg die weg van hul verhouding deur ses huweliksherdenkings, van die eerste tot by die twintigste. Die dialoog is geskryf deur van die voorste komedieskrywers in die land: Saartjie Botha, Leon Kruger, Malan Steyn, Jeanne Goosen, Henriëtta Gryffenberg en Chris Vorster. Nog 'n bekroonde skrywer, Hennie van Greunen, neem die regie waar en vleg alles saam vir 'n reis deur die huwelik wat wissel van swart komedie tot by slapstick en terug! Kom vier saam fees, maar wees reg om te koes!
NG Kerksaal. 90 minute. R55 per persoon.

16:00 Suurgat. Komedie - volwasse gehoor. Geskep en vertolk deur Leon Kruger. Nadat Skeitbang in 2005 een van die suksesvolste komedies in die land was, móés Leon Kruger nog 'n show doen. Hierdie stuk gaan oor 'n doodnormale ou wat opgestaan het met die voorneme om vandag 'n beter mens te word - om sy naaste lief te hê soos homself. A.g.v. omstandighede binne en buite sy beheer ontaard die dag in 'n nagmerrie. Regie: Marion Holm. Hierdie stuk was by Aardklop 2005 die naaswenner vir die beste nuwe teks.
Clanwilliam Senior Sekondêre Skoolsaal. 70 minute. R50 per persoon.

17:30 Lindie Stander staan op. Komedie – volwasse gehoor. Opruiend, uitlokkend en afgepis. Lindie Stander (bekende aanbieder van Kwêla) het die afgelope paar jaar bekend geword as een van Suid-Afrika se snaaksste Afrikaanse komediante, en die stand-up styl van haar opvoerings is steeds redelik uniek in Afrikaanse teater. Haar Alleen-trilogie (Man-alleen, Vinger-alleen en Tien teen een weer alleen) was net die opwarming. Dié keer word geen klip of politikus onaangeroer gelaat nie. Hierdie splinternuwe stuk beloof om selfs nog snaakser as die vorige drie treffers uit haar pen te wees. Regie: Gaerin Hauptfleisch.
Clanwilliam Senior Sekondêre Skoolsaal. 60 minute. R50 per persoon.

19:00 Dans met Acades - 'n groep van Steinkopf wat lekker dansmusiek maak.
Oud en jonk sal dit geniet.
Skousaal. R25 per persoon. Kaartjies: Joppie Amon (027) 482-1913.

19:00 Leipoldt-ete. Die Leipoldt-ete is 'n hoogtepunt op die feesprogram. Dit word aangebied deur Die Burger. 'n Driegang Leipoldt-geïnspireerde ete word aangebied. Vanjaar bied die Cederbergfees 'n unieke produksie aan. Zamar tree in die voorprogram op. Hierdie vyf talentvolle jong dames – Veronica Bell (viool), Anjulie de Vos (kontrabas), Hilandi du Toit (sang en kitaar), Luyda Rukavitsyna (sang en trekklavier) en Doné McLukie (djembe en perkussie) – maak musiek wat in almal se smaak sal val. Hul musiek sluit Amerikaanse tango, Ierse volksmusiek en tradisionele Afrika-musiek in. Ná die hoofgereg kom die baie gewilde produksie Broadway Romanza met Charl van Heyningen (Vibravo!) en Kate Normington (Phantom of the Opera) aan die beurt. Hulle sing bekende gunstelinge soos Time to say Goodbye, Don't cry for me Argentina, Music of the Night en ook van die gewildste Italiaanse liefdesliedere. Vir die Cederbergfees sluit hulle ook Afrikaanse gunstelinge soos Gebed van Koos du Plessis en die Leipoldtgetoonsette gedig Op my ou Ramkiekie in. Zamar sluit die aand op ‘n klassieke noot af.
Augsburg Landbougimnasium. R150 per persoon.
Besprekings: Erik of Melinda de Milander (027) 482-2918.
Geborg deur Die Burger en wyne deur Swartland Wynkelder.

19:00 Chris Chameleon. Musiek en liriek. Chris Chameleon sing musiek van sy nuutste Engelse CD en ook 'n paar van die gewildste liedjies van sy CD Ek herhaal jou. Hierdie bekende sanger en baskitaarslaner van die orkes Boo! en akteur in verskeie TV-produksies kom ná jare se werk in hoofsaaklik Europa en die VSA tuis om sy Afrikaanse wortels te herontdek met die uitreiking van sy eerste Afrikaanse solo-album – 'n versameling van toonsettings van die werk van die ikoniese Sestiger-digter Ingrid Jonker. Hy het vanjaar begin opneem aan 'n Engelse CD wat binnekort beskikbaar sal wees. Kom geniet 'n solo-vertoning spesiaal saamgestel vir die Cederbergfees.
NG Kerksaal.  80 minute. R50 per persoon.

Musiekfees in die vermaaklikheidstent


'n Program met iets in almal se smaak. Alan Hughes is die aanbieder. R60 per volwassene en R30 per student/skoolgaande kind/voorskoolse kind. Toegang sorg vir 'n volle dag en aand se vermaak in die tent.
10:00 Jannike Badenhorst is 'n sestienjarige skolier van die Hoërskool Strand. Sy het al by die KKNK opgetree en het ook 'n CD, "Aitsa", vrygestel. Vanjaar open sy die tentprogram op 'n hoë noot.
10:30 Le-Lue Rhode. Kom geniet die optrede van die wenner van Die Burger se 2005 Plussterkompetisie.
11:30 Ivan van der Merwe. Hy is oorspronklik van Vredendal en is besig om opgang te maak in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Ivan is baie gewild by feeste in ons kontrei.
12:00 Zamar. Vyf talentvolle jong dames – Veronica Bell (viool), Anjulie de Vos (kontrabas), Hilandi du Toit (sang en kitaar), Luyda Rukavitsyna (sang en trekklavier) en Doné McLukie (djembe en perkussie) – maak musiek wat jou voete laat jeuk.
13:00 Kurt Darren. Kurt het geen bekendstelling nodig nie. Hy is altyd gewild by oud en jonk by feeste in ons kontrei.
14:00 Nazneen. Die inwoners van Clanwilliam sien al lank uit na hierdie gewilde Idol-finalis se optrede.
15:00 Jacques Terreblance. Hy het naam gemaak as Idol-finalis met 'n ongelooflike stem. Die feit dat hy die voorkoms van 'n top-model het, dra natuurlik ook tot sy gewildheid by.
16:00 Eden. Hierdie vier "mooi" manne mag maar sing. Met hul nuwe CD, Point of no return, wys hulle dat hulle van internasionale gehalte is. Hulle bruis van energie. Met hul ritmiese musiek en danspassies sorg hulle dat die gehoor altyd op hul voete bly.
17:00 Ivan van der Merwe. Hy is oorspronklik van Vredendal en is besig om opgang te maak in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Ivan is baie gewild by feeste in ons kontrei.
17:30 Nazneen en Jacques Terreblance. Hierdie twee baie talentvolle Idol-finaliste is nie elke dag saam op die verhoog te sien nie. Feesgangers moet dit definitief nie misloop nie!
Geborg deur Swartland Wynkelder, Eerste Nasionale Bank en SA Brouerye.

Aandprogram in die vermaaklikheidstent


Saterdagaand verskaf ons lekker musiek vir die hele gesin.
Abel Kraamsaal tree op as aanbieder.
18:00 Ezra en sy band. Hierdie Idol is 'n gewilde en talentvolle musikant en liedjieskrywer. Sedert sy deelname aan Idols is hy 'n baie besige kunstenaar. Hy tree op saam met sy band en beloof om te rock!
19:00 Christo en Cobus Snyman. Hierdie twee broers is baie gewild en maak musiek vir oud en jonk.
20:00 Nic Stevens. Kom geniet lekker musiek wat gewild is by die meeste feesgangers.
21:00 Patric Steens en Lee. Patric is 'n kitaarspeler van formaat en Lee het 'n stem en verhoogpersoonlikheid soos min. Hulle gee 'n rock- en blues-vertoning en wys dat plaaslike talent nie hoef terug te staan vir besoekers nie. Hulle speel ou gunstelinge waarvan almal sal hou.
21:30 Delta Blue. Hulle het die vermoë om 'n baie lekker vibe te skep en almal in 'n feesstemming te plaas. Hulle verras met ou bekende blues-gunstelinge, maar speel ook hul eie unieke musiek. Heaven, hul nuutste CD, is baie goed ontvang. Tans is die groep sekerlik die beste blues band in die land - gewild by oud en jonk.
22:30 Abel Kraamsaal en sy band. Hulle kook in Afrikaans!
23:00 Moonflower. Hierdie is 'n opwindende nuwe groep van Kaapstad. Hulle skryf hulle eie songs, maar doen ook covers van Greenday, Nickelback en vele ander gewilde bands.
Geborg deur Swartland Wynkelder en SA Brouerye.

Ou Meul program


Hierdie ervaring is spesiaal vir feesgangers wat lus is vir 'n rustige aand met pragtige, besielende musiek in die ongelooflike atmosfeer van die Ou Meul. Ligte etes en wyn word buite verkoop.
19:00 Elzahn Rinquest. Sy het 'n ongelooflike stem en word as Suid-Afrika se eie Tracy Chapman beskou. Elzahn is ook 'n uitstekende liedjieskrywer met 'n musiekstyl van ligte akoestiese rock.
20:30 Gian Groen. Kom geniet 'n splinternuwe vertoning: Bymekaar. Gian het pas 'n nuwe CD uitgegee. In hierdie vertoning sing hy van sy nuwe liedjies en ook van sy ou gunstelinge.
22:00 Kom geniet 'n unieke jam-sessie van twee baie goeie vriende – Valiant en Gian Groen. Moet dit nie misloop nie! Hierdie vertoning van twee top-kunstenaars is uniek en baie spesiaal.
23:00 Valiant Swart. Hierdie is 'n baie spesiale akoestiese vertoning. Dit is nie elke dag wat gehore so bevoorreg is om Valiant in 'n akoestiese, intieme show te sien nie.
Sy jongste CD, Mystic Mile, is 'n treffer.
Ou Meul. Toegang: R50 per persoon.
Geborg deur Marcel de Reuck Wyne en Bilton Wyne.

Sondag, 30 April 2006


09:00 Feesdankseggingsdiens. Tydens die erediens sal A Few Good Men 'n kort gospel-vertoning lewer. NG Kerk.

10:00 Feesdanksegging. Gospel-groepe uit ons streek en die gewilde gospel-sangeres Bella tree op. Vermaaklikheidstent.

10:30 A Few Good Men Sing A Capella. A Few Good Men bied a capella-sang van hoë gehalte vir almal se smaak. Hul program sluit interessante verwerkings van 'n mengelmoes van liefdesliedjies, spirituals, jazz, ou bekende rock-'n-roll-treffers tot hul eie Afrikaanse woordkuns-verwerkings in.
St Johns Anglikaanse Kerk. 60 minute. R50 per persoon.
Met trots geborg deur Distell.

12:00 Volksmond. Hierdie unieke program word spesiaal saamgestel vir die Cederbergfees en gaan beslis een van die feeshoogtepunte wees. Volksmond is 'n moetsien-produksie vir alle musiekliefhebbers! Dit bevat die heel gewildste Afrikaanse volks- en kunsliedere soos Aandblom is 'n witblom, Die berggans het 'n veer laat val, Al lê die berge nog so blou en Suikerbossie. Dié program van woord en lied lê ook klem op die poësie wat uiteindelik die liedjies geword het wat ons ken. Met Isabel Martens, Louis Loock, Charlene Truter (aanbieder van Pasella) en Arno Jones (pianis). Saamgestel en geregisseer deur die kabaretpersoonlikheid Niël Rademan. 'n Driegang ete, saamgestel en voorberei deur Peter Veldsman en Johan Odendaal van die gewilde Emily's Restaurant in Kaapstad, word na afloop van die vertoning in die Strassberger's Hotel bedien.
Reinholds Restaurant. 120 minute. R150 per persoon (ete ingesluit).
Besprekings: Surette Claassens (027) 482-1101. Met trots geborg deur Distell.

15:30 Paljas van Dirk Ligter. Woordkunsprogram. In hierdie opdragstuk vir die Cederbergfees, geskryf deur Willem Fransman Junior, word die lewe van die legendariese figuur van die Tankwa-Karoo uitgebeeld.
Die Wupperthalse Rieldansers wys hul passies en Willem Fransman Junior (as Dirk Ambraal) en Zavey Goliath (as Koos Bol) neem teatergangers saam op die vele omswerwinge van Dirk Ligter. Ligter word as mens sowel as paljasmaker voorgehou. Sy manewales met die vroue en sy liefde vir 'n vet skaapribbetjie word ook nie weggelaat nie! 'n Kreakon Toneelgeselskap-produksie.
Gemeenskapsaal. 60 minute. R10 per volwassene en R5 per kind. Geborg deur Son.

17:00 Kantelson. Musiek en liriek. Gedigte van Ingrid Jonker getoonset en gesing deur Chris Chameleon soos op sy CD Ek herhaal jou. Hierdie bekende sanger en baskitaarslaner van die orkes Boo! en akteur in verskeie TV-produksies soos Sonkring, Konings, 7de Laan en Egoli kom ná jare se werk in hoofsaaklik Europa en die VSA tuis om sy Afrikaanse wortels te herontdek met die uitreiking van sy eerste Afrikaanse solo-album – 'n versameling van toonsettings van die werk van die ikoniese Sestiger-digter Ingrid Jonker. Petrovna Metelerkamp, skrywer van die Ingrid Jonker-biografie, Beeld van 'n Digterslewe, gee ná die vertoning 'n praatjie.
St Johns Anglikaanse Kerk. 120 minute. R50 per persoon.
Met trots geborg deur Distell.

20:00 Klassieke Keur: Mozart. Werke van Mozart word deur 'n strykkwartet van Stellenbosch uitgevoer.
St Johns Anglikaanse Kerk. 45 minute. R50 per persoon.
Met trots geborg deur Distell.

 

Ons het alles moontlik gedoen om te verseker dat die inligting in die program korrek is. Foute weens kansellasies of veranderings aan die program kan egter voorkom en ons kan nie aanspreeklikheid daarvoor aanvaar nie.